Meer oor Beskuitblik

Brenda

Brenda

My naam is Brenda Smit en ek is ’n gebore en getoë Suid-Afrikaner.  Ek en my gesin het in 1998 sak en pak Nederland toe getrek.  Bak en brou in die kombuis was nog altyd vir my meer as net kos op die tafel sit en my gesin en vriende se liefde vir beskuit het my meer en meer laat bak.

Die liefde vir beskuit is al lank in die familie. My oupa, jare gelede ‘n predikant in Molteno in die Oos-Kaap, het een van die susters in sy gemeente aangemoedig om haar beskuitresep vir ‘n kompetisie in te skryf. Dié wenresep word vandag nog in Suid-Afrika bemark.

Ek gebruik beproefde resepte van my ma en skoonma. My skoonma het ook jare lank beskuit aan tuisnywerhede verskaf. Gelukkig het sy haar geheime om lekker beskuit op grootmaat te bak, met my gedeel.

Om van ’n stokperdjie ’n ernstige saak te maak,  het ek ook ’n diploma, deur die Stichting Horeca Onderwijs, in Sociale Higiëne hier in Nederland behaal en kon ek my tuisnywerheid begin.

Het jy jou eie resep of spesifieke wense? Ek bak jou gunsteling beskuit graag! Kontak my.

 

Nuuskierig oor die ontstaan ​​en die geskiedenis van beskuit? Lees dan die storie hier.
 
beskuitblik-verhaal

Die Beskuitblik

So lank as wat ek kan onthou het ons die antieke Beskuitblik met die rooi rose op in ons huis gehad.

Die Beskuitblik het vir my ‘n dubbele sentimentele waarde. My Pa, ’n kranige tuinier, is dol oor rose en my ma sorg altyd dat die Beskuitblik vol is. Wanneer ek in die winter by my ouers kuier, bring my pa nog altyd vir my koffie en beskuit in die bed. In die somer sit ons al vroegoggend buite met ’n lekker koppie koffie en beskuit en geniet die pragtige uitsig oor die Groot Brakrivier.

Soos so baie Suid-Afrikaanse families bly ons ook verspreid oor die wêreld. Met Kersfees van 2009 was ons gelukkig weer almal bymekaar en het ek as kersgeskenk vir al my susters ’n voorskoot gegee met ’n foto van die befaamde Beskuitblik op. Die foto het my die idee gegee om dit te gebruik as logo en naam.

brenda-en-susters

Ek (links) en my susters