Geskiedenis van Suid-Afrikaanse beskuit

Volgens Die Geskiedenis van Boerekos 1652 – 1806 van H.W. Claassens is die woord biscuit uit Frans geleen wat “twee keer gebak” beteken.  Dié woord het inslag gevind en is gekies bo die dialektiese Nederlandse woord, tweebak. Dit was eintlik nie so vreemd dat hulle die Franse woord gekies het nie, want die meeste Nederlanders van die tyd was Frans magtig. Verder word vertel  dat die Franse soldate oorlog toe gestuur is met ’n slopie harde brood wat Biscuit de guerre genoem is – harde, haas oneetbare beskuit gemaak van meel en water.

Die VOC se skeepsbeskuit was nie veel beter nie.  Ook in  Die Geskiedenis van Boerekos    1652 – 1806 word uit Peter Kolbe se Naauwkeurige Beschryving van de Kaap de Goede Hoop aangehaal.  Dié goed was glo so hard mens kon dit  “naauwlyks met de tanden meester worden”.

Lank voor beskuitresepte in De Volmaakte Hollandsche Keukenmeid van 1761 gepubliseer is, was die tantes aan die Kaap al vlytig aan die bak. Die beskuit is aan die matrose verkoop asook aan die reisigers  wat die lang verkenningstogte die binneland in moes aanpak.

Alhoewel ’n mens vandag  beskuit van hoë,  tuisgebakte  gehalte in enige supermark in Suid-Arika kan koop, word dit nog steeds deur baie mense self gebak en byna by elke vlooimark en padstalletjie verkoop.

Vandag is dit ook nie meer die harde, wit beskuit van honderde jare gelede nie. Semels, hawer, rosyne en sonneblomsaad word  bygevoeg om ’n gesonde vroegoggend happie te maak vir ontbyt of by ’n vieruur koppie koffie!